Andre Swartz

Datum: 21/05/2016
Tyd: 8:00 pm - 10:00 pm
Plek: Meul Huis Teater
Beskrywing:

Wanneer die klanke van die immergewilde “My Way” (gewoonlik André se encore lied), wegsterf, sit die gehoor vir ‘n paar oomblike tjoepstil, te bang om te beweeg en sodoende die emosie van die “oomblik” te versteur voor hulle losbars met ‘n luide toejuiging en handeklap. Daar is ook geen ander lied wat André Schwartz se vertonings beter kan beskryf nie, “his way” en geen alledaagse, gewone, stereotipe “way” nie.

André, wat na ‘n paar jaar se suksesvolle hoofrol optredes in musiekblyspele (Phantom of the opera en Sound of Music) tydelik “uitgetree” het om al sy aandag aan sy bemarkingsbesigheid te wy, is op versoek van sy aanhangers terug op S.A. se verhoë en toer die land vol met sy produksie Sirkels en Kleure van my lewe. Tydens dié ongeveer 90 minute lange vertoning deel hy vir die eerste keer grepe en ware gebeurtenisse uit sy lewe, wat om die beurt emosies van skaterlag en intense hartseer by sy gehore laat ontstaan. Hy kuier met sy gehoor wanneer hy vertel van sy kinderjare, ontmoetings met wêreldbekendes soos Sir Andre Lloyd Weber en veel meer! André verstom met ou bekende liede soos Ek wil jou nooit weer sien nie, wat ‘n nostalgiese glimlag op heelwat gesigte bring en steel opnuut harte wanneer hy agter die klavier inskuif vir die akoestiese deel van sy vertoning. Sy eie weergawe van ‘n Jacques Brell liedjie bewys net weer waarom hy as een van ons land se veelsydigste kunstenaars beskryf word en sy vertolking van een van sy nuutste liedjies (wat slegs op ‘n toer album beskikbaar is) bevestig sy gewildheid onder ‘n wye ouderdomsgroep, voeg daarby sy ongelooflike sielvolle vertolking van Music of the Night (uit Phantom of the Opera) en jy weet, geen woorde kan werklik gestalte gee aan wat jy hier ervaar nie en dat ‘n deeltjie van hierdie vertoning jou altyd sal bybly!

Vra jy waarmee hy hom nog deesdae besig hou, vertel hy opgewonde van sy eie platemaatskappy Gmmmf wat pas gestig is en die nuwe CD waarmee hy besig is! Hy is ook geesdriftig opgewonde oor die werk van die twee NPO’s, een vir mishandelde en gestremde kinders en die ander by Animals in Distress, vir onversorgde diere, waarby hy betrokke is.

Die man ken gewis nie ‘n oomblik van stilsit nie … hy gebruik elke oomblik hom geskenk om voluit te lewe ….. om en om in sirkels vol helder spatsels rooi geel en blou kleur!!! André Schwartz leef sy lied “Lief vir alles hier” ten volle en dit is duidelik dat SA nog ‘n hele aantal kleurvolle sirkels van hierdie dinamiese kunstenaar gaan beleef!


Plek op kaart:

Loading Map....

Copyright © 2015. Meul Huis Teater. All Rights Reserved.

Website Designed & Maintained by Web Ateljee